Plante_diere_en_beroepe_in_die_ PPPP BOOKMOBI #M 3S CY S_ ce sk t y p L c" MOBI P % P EXTH W e 'Bybelgenootskap van Suid-Afrika d 'Bybelgenootskap van Suid-Afrika -Plante, diere en beroepe in die Bybel j !2012-09-12T12:52:27+00:00 l 2calibre (0.8.0) [http://calibre-ebook.com] q ,3d7ad3b9-1f5d-4812-aa4c-b9be78a9c088 EBOK j !2012-09-12T12:52:27+00:00 Plante, diere en beroepe in die Bybel
Plante in die Bybel
Hoewel daar vordering gemaak is op die identifikasie van plante wat in die Bybellande voorkom of voorgekom het, bly dit steeds moeilik om die plantname in die grondteks aan spesifieke plante te verbind. ’n Lys van sommige benamings uit die 1983-vertaling word hier weergegee.
Bome
Akkerboom: 2 Sam. 18:9
Dawid se manskappe het op Absalom afgekom waar hy op 'n muil gery het. Die muil het onder die digte takke van 'n groot akkerboom deurgegaan, en Absalom se kop het in die boom vasgehaak. Die muil waarop hy gery het, het aangehou hardloop en Absalom het tussen hemel en aarde bly hang.
Doringboom: 2 Sam. 3:26
Joab is toe van Dawid af weg en het boodskappers agter Abner aangestuur. Hulle het hom by die watergat langs die doringboom laat omdraai sonder dat Dawid dit geweet het.
Eikeboom: Jes. 44:14
Die ambagsman kap vir hom seders af, of hy kies sipresse of eike en laat hulle groot word in die bos, of hy plant 'n lourierboom, en die reën laat dit groot word.
Populier: Gen. 30:37
Jakob het toe jong lote van populiere, amandels en plataanbome gevat en stroke daarvan afgeskil, sodat daar wit strepe op die lote was.
Struike en bossies
Besembos: 1 Kon. 19:4
Hy self het egter 'n dagreis ver die woestyn in gegaan. Daar het hy onder 'n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood. Hy het gesê: “Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie.”
Dissels: Gen. 3:17-18
Vir die mens het die Here God gesê: “Omdat jy na jou vrou geluister het en geëet het van die boom waarvan Ek jou verbied het om te eet, “is die aarde deur jou toedoen vervloek; met swaarkry sal jy daaruit 'n bestaan maak, jou lewe lank; die aarde sal vir jou dorings en dissels laat uitspruit, en jy sal veldplante eet;
Kapperkruid: Pred. 12:5
Dit is die tyd wanneer hy bang is vir 'n hoogte en vir alles op die pad skrik, die tyd wanneer die amandelboom in bloei staan, die sprinkaan homself moeisaam voortsleep en die kapperkruid nutteloos word, die tyd wanneer die mens na sy ewige woning gaan en dié wat treur, op die straat rondgaan ...
Grasplante
Biesie: Jes. 9:13
Daarom sal die Here vir Israel heeltemal vernietig op een enkele dag; Hy sal kop en stert, palmtak en biesie, afsny.
Seegras: Jona 2:5
Die waters het my toegevou, die groot water het my omring, seegras was om my kop gedraai.
Waterplante: Job 40:16
Hy lê tussen waterplante, hy skuil tussen die riete in die moeras.
Vrugtebome
Appelboom: Hoogl. 2:3
Sy: “Soos 'n appelboom tussen wilde bome, so is die man wat ek liefhet, tussen die jongmans. Ek sit graag in sy skaduwee, sy vrugte is soet in my mond.
Moerbeiboom: Luk. 17:6
Maar die Here antwoord: “As julle maar geloof so groot soos 'n mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie moerbeiboom kon sê: ‘Trek jou met wortels en al uit die grond uit en plant jouself in die see,’ en hy sou julle gehoorsaam.
Olyfboom: Eks. 23:10-11
“ Ses jaar mag jy jou lande saai en die oes insamel, maar die sewende jaar moet jy dit laat braak lê. Die armes onder jou mense mag van die opslag eet, en wat hulle laat oorbly, kan die wilde diere vreet. So moet jy ook met jou wingerd en olyfbome maak.
Vyeboom: Spr. 27:18
Wie sy vyeboom versorg, sal vye hê om te eet; wie omsien na sy werkgewer se belange, sal daarvoor eer ontvang.
Kruie
Aalwyn: Ps. 45:9
Die geur van mirre, aalwyn en kaneel deurtrek al u klere; musiek uit u ivoorversierde paleis maak u bly.
Hennablomme: Hoogl. 1:14
Die man wat ek liefhet, is vir my 'n bos hennablomme uit die wingerde van En-Gedi.”
Kaneel: Eks. 30:23-24
“Gebruik die standaardmaat van die heiligdom en meet die volgende speserye af: vyf honderd dele vloeibare mirre, die helfte soveel geurige kaneel, twee honderd en vyftig dele geurige kalmoes, vyf honderd dele kassie, en vier liter olyfolie.
Koljander: Matt. 23:23
“Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg, laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Juis hierdie dinge moet 'n mens doen en die ander nie nalaat nie.
Komyn: Jes. 28:25
As hy die grond gelyk gemaak het, saai hy mos swartkomyn en komyn, sit hy koring en gars in waar dit moet kom en spelt aan die kante.
Saffraan: Hoogl. 4:13-14
Jou liggaam is 'n lushof, granaatbome met keurige vrugte, hennastruike saam met nardus, nardus en saffraan, kalmoes en kaneel saam met elke soort lekkerruik-kruie, mirre en aalwyn saam met al die beste lekkerruik-kruie.
Mosterdsaadjie: Matt. 13:31
Hy het nog 'n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel is soos 'n mosterdsaadjie wat iemand gevat en in sy land geplant het.
Graan en peulgewasse
Boontjies: 2 Sam. 17:28
Hulle het toe die slaapplek reggemaak. Daar was ook nog erdebakke, koring, gars, meel, gebraaide koring, boontjies en lensies.
Gars: Eks. 9:31
Die vlas- en die garsoes is vernietig omdat die gars in die aar en die vlas in die knop was,
Koring: Gen. 27:28
God gee aan jou dou uit die hemel, die rykdom van die aarde: koring en wyn in oorvloed.
Lensies: 2 Sam. 17:28
Hulle het toe die slaapplek reggemaak. Daar was ook nog erdebakke, koring, gars, meel, gebraaide koring, boontjies en lensies.
Spelt: Jes. 28:25
As hy die grond gelyk gemaak het, saai hy mos swartkomyn en komyn, sit hy koring en gars in waar dit moet kom en spelt aan die kante.
Blomplante
Affodil: Hoogl. 2:1
“Ek is 'n affodil van Saron, 'n lelie van die laagtes!”
Lelie: Hoogl. 2:2
Hy: “Soos 'n lelie tussen dorings, so is my liefling tussen die meisies.”
Veldblom: Jes. 40:6
Iemand sê: “Roep!” En ek vra: “Wat kan ek roep? Alle mense is soos gras, alles waarop hulle staatmaak, is soos 'n veldblom:
Diere in die Bybel
Die meeste verwysings na diere in die Bybel het te doen met vergelyking en metafoo r. Die voorkoms of vermoëns van diere word gebruik om eienskappe van mense en hulle optrede of omstandighede uit te beeld.
Let wel: Dit is nie altyd moontlik om dierename wat in die Hebreeuse en Griekse grondtekste voorkom, te vertaal nie. Die name van diere wat nie in ons land voorkom nie, is soms vervang met die naam van ’n dier wat eie aan ons land is as hulle gewoontes of voorkoms ooreenstem.
Roofdiere
Leeu: Spr. 30:30
'n leeu, die magtigste van al die diere, wat vir niks stuit nie;
Luiperd: Jer. 13:23
Kan 'n Kussiet sy vel verander of 'n luiperd sy vlekke? Sou julle kon doen wat goed is, julle wat so gewoond is aan die kwaad?
Wolf: Hab. 1:8
Hulle perde is vinniger as luiperds, vuriger as honger wolwe. Hulle ruiters kom aan op 'n galop, hulle kom van ver af, hulle vlieg soos arende wat op hulle prooi neerskiet.
Beer: 2 Sam. 17:8
U ken tog u vader en sy manskappe. Hulle is dapper vegters en hulle is boonop verbitter soos 'n beer wat in die veld van haar kleintjies beroof is. Daarby is u vader 'n uitgeslape krygsman. Hy sal nie by die volk oornag nie.
Jakkals: Jer. 14:6
Wildedonkies staan op die kaal heuwels en snuif die wind net soos jakkalse; hulle oë raak dof, want daar is nie meer gras nie.
Wildsoorte
Ribbok: Jes. 13:14
Soos 'n ribbok wat opgejaag is, soos 'n skaap wat nie opgepas word nie, so sal die mense uit Babel padgee, elkeen na sy eie volk toe, so sal elkeen na sy eie land toe vlug.
Takbok: Hoogl. 2:9
Die man wat ek liefhet, maak soos 'n ribbok, soos 'n takboklam. Kyk, daar staan hy agter ons huis se muur, hy kyk by die venster in, hy loer deur die latwerk!
Buffel: Num. 23:22
God het hulle uit Egipte laat trek, sy krag is vir hulle soos die horings van 'n buffel.
Reptiele en insekte
Slang: Gen. 49:17
Dan is 'n slang op die pad, 'n horingslang op die grootpad, hy pik die perd aan sy hakskeen, die ruiter val agteroor.
Sprinkaan: Rig. 6:5
Die Midianiete het met hulle veetroppe gekom en kom tent opslaan. Hulle was so baie soos sprinkane: hulle en hulle kamele kon nie getel word nie. Hulle het die land kaalgestroop.
Wurm: Job 25:6
hoeveel te minder 'n mens, 'n blote wurm, 'n mensekind, wat maar net 'n ruspe is?”
Mot: Job 4:19
hoeveel te meer hulle wat in huise van klei woon, mense wat uit stof opgebou is, mense wat soos 'n mot pap gedruk kan word.
Voëls
Arend: Job 9:26
... hulle gaan vinnig by my verby soos papirusbote, soos 'n arend wat afskiet op sy prooi.
Aasvoël: Miga 1:16
Skeer 'n kaal kol op jou kop, skeer 'n kaal kol op jou kop soos dié van 'n aasvoël, want dié oor wie jy bly is, sal van jou af in ballingskap weggevoer word.
Pelikaan: Ps. 102:7
Ek voel so verlate soos 'n pelikaan in 'n woestyn, soos 'n uil tussen murasies.
Volstruis: Klaagl. 4:3
Selfs 'n jakkals gee vir sy kleintjie die speen en laat hom drink, maar my volk het so wreed geword soos volstruise in die woestyn.
Duif: Jes. 59:11
Ons is almal soos grommende bere, soos duiwe wat kla en kla. Ons wag op reg, maar daar is geen reg nie, op redding, maar dit bly ver van ons af.
Mak diere
Kameel: Jer. 2:23
Hoe kan jy dan sê: “Ek het my nie verontreinig nie, ek het nie die Baäls gedien nie”? Kyk hoe het jy jou gedra in die Hinnomdal. Besef tog wat jy gedoen het! Jy was soos 'n kameelkoei wat bul soek, wat kruis en dwars hardloop,
Hond: Job 30:1
“Maar nou lag hulle vir my, mense wat jonger is as ek, mense wie se vaders ek nie werd geag het om saam met die honde my kleinvee op te pas nie.
Perd: Rig. 5:22
“Die perde het met hulle hoewe gekap, die sterkes het in jaaggalop voortgestorm.
Donkie: Gen. 49:14
“Issaskar is 'n sterk pakdier, hy gaan lê tussen sy twee saalsakke.
Beroepe in die Bybel
Ons lees van ʼn hele paar beroepe in die Bybel wat steeds vandag beoefen word.
Medies
Vroedvrou Gen. 35:17
Met dié dat Ragel so swaar ly by die bevalling, sê die vroedvrou vir haar: “Moenie bekommerd wees nie. Ook hierdie keer het jy 'n seun!”
Dokter Gen. 50:2
Daarna het Josef die dokters in sy diens beveel om die lyk van sy pa te balsem. Hulle het toe vir Israel gebalsem.
Salfmenger Neh. 3:8
Ussiël seun van Garhaja, en die smede het die volgende stuk herstel, en Gananja, een van die salfmengers, die volgende. Hulle het buite om Jerusalem gebou tot by die Breë Muur.
Regering en gereg
Minister: Dan. 6:3-8
Oor hulle was daar drie ministers, van wie Daniël een was en aan wie die goewerneurs-generaal verantwoordelik was sodat die koning se belange behoorlik behartig kon word. Hierdie Daniël het deur sy buitengewone bekwaamheid so uitgeblink bo die ander ministers en die goewerneurs-generaal dat die koning van plan was om hom oor die hele koninkryk aan te stel. Die ministers en die goewerneurs-generaal het toe iets teen Daniël probeer kry oor die manier waarop hy die administrasie behartig het, maar hulle kon nie. Hulle kon ook geen onreëlmatigheid vind nie, want Daniël was betroubaar en was aan geen nalatigheid of onreëlmatigheid skuldig nie. Hulle sê toe vir mekaar: “Ons sal niks teen hierdie Daniël kry nie, behalwe as ons iets kan kry in verband met sy godsdiens.” Die ministers en die goewerneurs-generaal storm toe by die koning in en sê vir hom: “Mag die koning baie lank lewe! Al u ministers en al die goewerneurs, goewerneurs-generaal, raadgewers en administrateurs het met mekaar ooreengekom dat daar 'n koninklike dekreet uitgevaardig moet word. Die dekreet moet baie streng bepaal dat enigiemand wat gedurende dertig dae enige god of mens aanbid behalwe vir u, U Majesteit, in 'n leeukuil gegooi moet word.
Regter: Matt. 5:25
“As iemand 'n regsaak teen jou begin, kom betyds tot 'n skikking solank jy nog saam met hom op pad hof toe is, sodat hy jou nie voor die regter bring en die regter jou aan die polisie oorgee en dié jou in die tronk sit nie.
Polisie: Luk. 12:58
“Terwyl jy saam met jou teenstander op pad is hof toe, moet jy moeite doen om die saak met hom te skik, sodat hy jou nie voor die regter sleep en die regter jou aan die polisie oorgee en die polisie jou in die tronk sit nie.
Sekretaris: 2 Kon. 22:3
In die agtiende jaar van sy regering het Josia die staatsekretaris Safan, seun van Asalja seun van Mesullam, na die huis van die Here toe gestuur met die opdrag:
ր
Landbou
Veeboer en Saaiboer: Gen. 4:2
Sy het weer 'n kind gekry, Abel, 'n broer vir Kain. Abel was 'n veeboer en Kain 'n saaiboer.
Voorman: Rut 2:5
Boas vra toe vir sy voorman: “Wie is daardie meisie?”
Wynboer: 2 Kron. 26:10
Ook in die weiveld het hy forte gebou en baie putte laat grawe, want hy het baie vee gehad, in die Laeveld en op Platorand. In die berge en op die Karmel het hy mense gehad wat sy lande en sy wingerde bewerk het. Hy was lief vir die grond.
Handel
Handelaar: Gen. 37:25-28
Daarna het hulle gaan sit en eet, en toe hulle weer sien, kom daar 'n klomp Ismaelitiese handelaars uit Gilead aan. Hulle was op pad na Egipte toe en op hulle kamele was daar gom, balsem en hars gelaai. Toe sê Juda vir sy broers: “Watter nut het dit vir ons om ons broer dood te maak en dit dig te hou? Kom ons verkoop hom aan die Ismaeliete. Ons moenie sy lewe neem nie, hy is ons broer, hy is bloedfamilie.” Juda se broers het na hom geluister, en toe daar van die Midianitiese handelaars verbykom, het die broers vir Josef uit die put uit opgetrek en vir twintig stukke silwer aan die Ismaeliete verkoop en dié het hom Egipte toe gevat.
Geldwisselaar: Matt. 21:12
Jesus het tempel toe gegaan en al die mense wat op die tempelplein koop en verkoop, daar uitgejaag. Die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi
Tekstielbedryf
Wewer: Eks. 38:23
Oholiab, seun van Agisamak uit die stam Dan, het hom gehelp. Oholiab was 'n vakman en 'n ontwerper en 'n wewer van blou, pers en bloedrooi wolstof en van linne.
Boubedryf
Bouer: 1 Kon. 5:18
Die bouers van Salomo en van Hiram en die mense van Gebal het dit verder reggekap en dan die hout en die klippe reg gesit vir die bou van die tempel.
Skrynwerker: 2 Sam. 5:11
Koning Hiram van Tirus het 'n afvaardiging na hom toe gestuur en ook sederhout en skrynwerkers en messelaars. Hulle het vir Dawid 'n paleis gebou.
Messelaar: 1 Kron. 14:1
Abia is oorlede, en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Asa het hom as koning opgevolg en in dié se tyd het die land tien jaar lank vrede gehad.
Timmerman: Jes. 44:13
Die ambagsman wat hout gebruik, meet met sy maatlyn en merk die beeld se buitelyne af. Hy bewerk hom met beitels en trek sy mate met 'n passer af. Hy maak hom in die vorm van 'n mens, 'n pragtige mens wat in 'n huis moet woon.
Metaalwerk
Goudsmid: Jes. 40:19
'n Beeld word deur 'n ambagsman gegiet en deur 'n smid met goud oorgetrek en met silwerkettinkies versier.
Silwersmid: Spr. 25:4
As jy die slak uit silwer haal, kan die smid iets van die silwer maak.
Ystersmid: Jes. 44:12
Die ystersmid vat 'n stuk gereedskap en werskaf in die gloeiende kole. Met hamers vorm hy die beeld, met sy gespierde arm maak hy die beeld: die smid eet nie en word swak, hy drink nie water nie en raak uitgeput.
Weermag
Soldaat: Rig. 11:1
Jefta was 'n seun van Gilead. Hy was 'n dapper soldaat. Sy ma was 'n prostituut, maar sy pa was Gilead.
Lyfwag: Hand. 10:7
Nadat die engel wat met hom gepraat het, weggegaan het, het Kornelius twee van sy huisbediendes en een van sy lyfwagte, 'n godsdienstige soldaat, geroep.
Offisier: Hand. 27:1
Toe ons vertrek na Italië toe bepaal was, het hulle Paulus en 'n paar ander gevangenes aan Julius, 'n offisier van die keiserlike regiment, oorhandig.
Kunste
Kunstenaar: Jer. 10:9
Die silwerbeslag kom uit Tarsis, die goud uit Ufas. Dit is die werk van 'n ambagsman en 'n goudsmid, die afgode is geklee in pers en rooi wolstof, alles die werk van kunstenaars.
Musikant: 1 Kon. 10:12
Die koning het die jenewerhout gebruik vir relings by die huis van die Here en by die koninklike paleis, en vir die liere en harpe van die musikante. Daar is tot vandag toe nie sulke jenewerhout gesien nie.
Uitgegee en versprei deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika.
Alle Skrifgedeeltes geneem uit die Afrikaans 1983-vertaling.
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2012
www.bybelgenootskap.co.za